ONS CAMINO|KOMMENTAAR|ANDER PUBLIKASIES|RESENSIES|BESTELVORM
Ons Camino - VoorbladPienkes du Plessis se nuwe boek Ons Camino, wat pas verskyn het, is inderdaad ʼn Spaanse avontuur.  Dis die reisverhaal van Pienkes en sy vrou, Lizzie, op hulle voete en met hulle rugsakke op die antieke pelgrimspad na Santiago, ʼn staptog van 330 km in April 2015.

Hulle belewenisse van baie lief en min leed, word sorgeloos en sprankelend oorvertel in Ons Camino, ʼn boek met ʼn teks van 41 000 woorde en 87 kleurfoto’s op glanspapier.  Elke eksemplaar is individueel genommer en persoonlik deur die skrywer geteken.

Dis by verskeie boekwinkels beskikbaar maar kan ook direk by die skrywer bestel word.

Aflewering per koerier word deur-tot-deur in stedelike gebiede gedoen of toonbank-tot-toonbank per geregistreerde pos in nie-stedelike gebiede.

Die prys is R295 posvry in beide gevalle. Sien die Bestelvorm verderaan.


Ons Camino - staptogOns Camino - Staptog 2
 
Ons Camino - Agterblad Die Camino is ‘n pad, ‘n weg, in Spaans. In hierdie geval die wêreldbekende pelgrimspad na Santiago in die noordweste van Spanje. Dis op hierdie pad dat Pienkes en Lizzie du Plessis in April 2015 hulle begeef en die 330 km van León na Santiago op hulle voete in ‘n avontuur omskep wat hulle lewenslank sal bybly. ‘n Heuglike avontuur, fisiek uitputtend, spiritueel ‘n belewenis, ‘n ontdekkingsreis van mites en wondere oor baie, baie eeue heen. Van oorlog en liefde, liegbek biskoppe en vreeslose minnaars, siekes en verhongerdes, rowers en hoere, biddendes en goddeloses. Sorgvuldig in kerkboeke opgeteken en entoesiasties oorvertel en bygeheg deur kroegmanne met lang voorskote. Platneusnuuskierig teen die venster van die godsdiens beleef hulle hierdie tydlose mistiek van die Camino, waar miljoene in die duisende kerkies bid en in die taphuise drink. Die Camino praat met jou die hele pad, praat met jou binnekantste, herskep dit tot aan die einde, en maak jou van vooraf nuut.




George Claassen, Wetenskapjoernalis en skrywer

“Volgens die beste tradisie van reisverhale, neem Pienkes du Plessis die leser op ‘n staptog gevul met deernis, humor en skerp waarneming.”



Daniel Hugo, Digter en vertaler

“In hierdie Spaanse reisverhaal bereik Pienkes se vertelkuns nuwe, voorheen onverkende hoogtes.”



Nic De Jager, Radio- en TV-man

“Pienkes du Plessis se skalkse humor in Ons Camino is ‘n vreugde, so sprankelend dat dit moeilik is om op te hou lees.”